Die onlangse vuur wat oor Ontongskop, Tulbagh, gewoed het.

 

As ‘n dreigende krisis opdaag, spekuleer ‘n mens nie meer daaroor nie, want dan is die tyd vir spekulasie verby. Dan is die fokus daarop om deur die krisis te kom. Die tyd vir kibbel oor of klimaatsverandering ‘n werklikheid is, is verby. Dit is nie meer iets wat in die nabye toekoms vir ons wag nie. Die krisis met die naam, klimaatsverandering, is klaar op ons. Eintlik is dit al geruime tyd met ons. Dit het ons suutjies bekruip en toe heelwat vinniger op ons gespring as wat die klimaatsprofete voorspel het.

Ds David Botha
Eko-korrespondent van ons Groenspan

_________________________________________

 

Aan die begin van 2019 het prof. Francois Engelbrecht van die Global Change Institute van die Universiteit van die Witwatersrand, saam met ander leidende wetenskaplikes in die wêreld voorspel dat ons nog tot 2030 toe tyd het om die aarde se verwarming tot die kritiese verhoging van 1.5 grade Celcius te beperk. Dit is nou 5 jaar later.

En 2024 het begin met die aankondiging dat 2023 die warmste jaar was in die geskiedenis van die aarde sedert 1850. Dié aankondiging was ‘n bevestiging van die feit dat die aarde se klimaat besig is om progressief te styg. Dit is egter die nuus dat heelwat plekke op die aarde in 2023 reeds die 1.5 grade-drumpel bereik en selfs oorskry het, wat helder en duidelik aankondig dat die krisis van te hoë temperature reeds met ons is. Dit is nie meer iets wat in die toekoms lê nie.

Dié aankondiging is ondersteun deur vier betroubare instansies wat met satelietdata die aarde se klimaat baie fyn dophou. Een van hulle is Copernicus, die Europese waarnemingsinstansie wat aan die begin van Februarie en Maart aangekondig het dat hulle data daarop dui dat ook Januarie en Februarie 2024 die warmste Januarie en Februarie is wat nog ooit gemeet is – met Maart se gemiddelde globale verhoging in temperatuur op 1.77 grade celcius! Sedert Junie 2023 was elke maand sover die warmste maand nog ooit gemeet. Die aarde se temepratuur is besig om vinniger en konstanter te klim as wat voorspel is.

 

Dit is van betekenis ten opsigte van veral die volgende twee faktore: 

Aardtemperatuur moet dringend beperk word

In die eerste plek beteken dit dat alle maatreëls wat teen 2030 in plek moes wees om die styging in die aarde se temperatuur te versag (mitigate) en tot 1.5 of selfs 2 grade Celcius te beperk, dringend versnel moet word. Ons tyd-bankrekening is reeds in die rooi!

Wat is egter die kans dat die wêreld se politieke – en ekonomiese leiers klimaatsverandering só gaan priotiriseer dat dit die nodige en dringende aandag kry wat dit vereis? Ek dink uiters skraal. Die wêreld se aandag is by oorloë en verkiesings – onder andere by die oorloë in Ukraïne en Gaza en presidentsverkiesings in Rusland en Amerika.

Voeg daarby die tragiese feit dat die Wêreldhandelorganisasie (WHO) se onlangse vergadering nie een sinvolle ooreenkoms kon bereik nie. Ons het eenvoudig nie die globale wil, eenheid en kapasiteit wat nodig is om gepas en effektief op die klimaatsveranderingskrisis te reageer nie.

Volgens prof. Engelbrecht tydens ‘n onderhoud op Monitor (8 Maart 2024) RSG, het ons 25 jaar om wêreldwyd ontslae te raak van die gebruik van alle fossielbrandstof indien ons ‘n kans wil staan om die aarde se temperatuur se verhoging tot 2 grade celcius te beperk.

Volgens die verslag van Experian Automotive wat in die tweede kwartaal van 2023 verskyn het, was net een persent van alle voertuie op Amerikaanse paaie elektries-aangedrewe. En volgens Statista was slegs 1 000 van die 12 miljoen voertuie op Suid-Afrika se paaie in 2022 elektries (0.0083 persent). Een van die grootste ekonomieë ter wêreld, Amerika, het skaars begin met die omskakeling na elektries-aangedrewe voertuie!

 

‘n Moontlike katastrofe is op ons.

In sy boek, The end of Eden – wild nature in the age of climate breakdown, argumenteer Adam Welz, dat ons eerder van klimaatineenstorting moet praat as klimaatsverandering. Hy vertel in dié boek die verhale van verskillende spesies se stryd om oorlewing in die hoop dat ons begrip sal kry vir wat regtig in die ekosisteme van die aarde aan die gebeur is. Alles is besig om rondom ons te verander. En die aard van hierdie verandering is eintlik ‘n ineenstorting.

Hy verwys onder andere na die groeiende gewaarwording by mense in natuurbewaringskringe dat al hulle modelle en pogings om ekosisteme, biodiversiteit en spesies te beskerm besig is om ernstig uitgedaag te word. Klimaatineenstorting bedryg al hulle pogings en maak hulle diep onseker oor wat hulle besig is om te doen. Die Krugerwildtuin en ander natuurbewaringareas spring nie klimaatineenstorting vry nie.

In sy onderhoud met Murray La Vita vertel Welz van sy belewenis in Australië met die verwoestende brande wat hulle gehad het. Nie net die omvang nie, maar ook die intensiteit van die brande het gesoute brandslaners en vir hom geskok en verbysterd gelaat (Die Burger, Vrydag 26 Januarie 2024, p 15).

 

Dit alles impliseer dat ons ons fokus sal moet verskuif na krisisbestuur.

Ons kan nie meer die krisis afweer nie, want ons is reeds daarin. En miskien is brandbestryding ‘n goeie en gepaste metafoor om vir ons te wys hoe dié krisisbestuur kan lyk.

Die eerste belangrike stap by brandbestryding is om die vuur te smoor as dit nog klein is.

Die meeste vure begin klein; klein en mak genoeg om met min moeite geblus te word. As dit egter nie vinnig opgemerk word en die regte aandag kry nie kan dit binne minute in ‘n onbeheerbare brand ontaard. En as dit lank genoeg ongehinderd gelaat of oneffektief bestry word, kan dit in ‘n monster ontaard. ‘n Klein vuurtjie kan in ‘n paar sekondes doodgetrap of doodgeslaan word. ‘n Monster van ‘n vuur kan hoogstens ingeperk en gestuur word. En aan ‘n monstervuur wat buite beheer brand, kan niemand iets doen nie!

Oor hoe hoog die vuur van klimaatsverandering reeds brand, sal ons sekerlik nie saamstem nie. Waaroor ons egter eendragtig behoort saam te stem, is dat ons alles in ons vermoë moet doen om te verhoed dat klimaatsverandering ‘n onbeheerbare monster word.

Ons het dit reggekry om die meeste brande (en daar was baie) wat die afgelope somer in die Tulbaghkom ontstaan en met vinnige en effektiewe bestryding betyds geblus kon word en hul skade in te perk – behalwe die een van 22 Januarie 2024. Dit kon eers geblus word nadat meer as 25 000 hektaar plantegroei afgebrand het.

Dit kon egter verhoed gewees het as diegene wat die vuur eerste opgemerk het dadelik en effektief opgetree het. Die eerste persoon wat die vuur gesien het, het besluit om niks te doen nie. Eers ‘n halfuur later het die sekuriteitskameras die rook waargeneem. En die res is geskiedenis!

 

david p botha
dpbotha2@gmail.com

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *